11/10/2026
AGRI LIMPOPO WENS WILLEM GROOTHOF GELUK MET BOER VAN DIE JAAR-ERKENNING
Agri Limpopo wens Willem Groothof van Willand Boerdery in die Settlers-omgewing hartlik geluk met sy aanwysing as Landbouskrywers SA Noord se Boer van die Jaar 2026 vir Limpopo.
Dié toekenning is tydens die organisasie se jaarlikse streekstoekenningsgeleentheid oorhandig. Die toekennings vereer uitnemendheid in die landbou in drie kategorieë: Boer van die Jaar, Landboukundige van die Jaar en Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou. Streekswenners dring deur na die nasionale toekennings, waar die nasionale Boer van die Jaar in November 2026 aangewys sal word.
Willem se erkenning weerspieël sy uitnemendheid as produsent én sy waardevolle bydrae tot die breër graanbedryf. As lid van Graan SA se uitvoerende komitee en voorsitter van die Sorghumwerkgroep speel hy ’n belangrike rol in georganiseerde landbou en die verteenwoordiging van graanprodusente se belange. Sy betrokkenheid by kultivarproewe en produsente-inligtingsdae op sy plaas dra ook by tot praktiese kennisdeling en die ontwikkeling van die sorghumbedryf.
Vir Agri Limpopo is hierdie prestasie ’n bron van trots. Dit beklemtoon die gehalte van ons provinsie se produsente en die waarde van landbouleiers wat, benewens hul eie boerderye, ook tyd en kundigheid aan die vooruitgang van die bedryf wy.
Ons wens Willem, sy familie en die Willand Boerdery-span geluk met hierdie welverdiende erkenning. Ons sien met trots uit na die nasionale toekennings en wens hom alle voorspoed toe.
Willem, dankie vir jou bydrae tot die landbou en vir die wyse waarop jy Limpopo se naam hoog hou!