16/10/2026
Sakelui en entrepreneurs: deel jou mening oor Orania se sakeomgewing!
Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) het onlangs ’n meningspeiling vir sakelui en entrepreneurs met ’n belangstelling in Orania gepubliseer. Die meningspeiling het ten doel om uitdagings en geleenthede vir sakeontwikkeling in Orania te identifiseer.
Enige iemand wat dit oorweeg om ’n nuwe besigheid in Orania te stig of ’n bestaande besigheid na Orania uit te brei, word uitgenooi om hierdie meningspeiling te voltooi.
Vir Orania om suksesvol as ’n ekonomiese bestemming vir sakelui te ontwikkel, is dit belangrik om bottelnekke en sake-uitdagings te identifiseer en aan te spreek. Hierdie meningspeiling is só opgestel dat dit eerstehandse inligting by persone in hul onderskeie bedrywe insamel.
“Hierdie opname is daarop gemik om beter te verstaan watter faktore voornemende entrepreneurs in ag neem wanneer hulle dit oorweeg om ’n besigheid in Orania te vestig of sakebelange daar te ontwikkel. Ons wil veral vasstel watter moontlike bottelnekke, versperrings of uitdagings entrepreneurs tans met betrekking tot sakevestiging in Orania ervaar,” sê Werner Fourie, ekonoom van OOM. “Die inligting wat deur hierdie opname ingesamel word, sal gebruik word om beter insig in die behoeftes en verwagtinge van voornemende ondernemers te verkry en om moontlike geleenthede vir die verbetering van die sake- en ondernemersomgewing in Orania te identifiseer.”
OOM nooi graag enige iemand met ’n belangstelling in sakeontwikkeling in Orania uit om hierdie kort vraelys in te vul. Die inligting wat hier verskaf word, is waardevol vir Orania se ekonomiese ontwikkeling.
Klik op die skakel om deel te neem: https://www.surveymonkey.com/r/LN3XMST